
=====================================================================
Keuses word nou vir en in Afrikaans gemaak (AV 4:2)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Keuses word nou vir en in Afrikaans gemaak

Anastasia de Vries   van die Universiteit van Wes-Kaapland se Departement Afrikaans en Nederlands, gee haar indrukke van die teenswoordige 
gesindheid jeens Afrikaans in haar omgewing en werkkring.

Word oor Afrikaans in intellektuele kringe gepraat, word die buite-talige bagasie van die taal altyd bygeskottel om die een of ander 
houding teenoor of standpunt oor die taal te demonstreer.

Op forums en in die massamedia word verskille oor en in Afrikaans binne dieselfde taalgemeenskap oor en weer geslinger en die "ons" en 
"julle" waarmee sprekers na mekaar verwys, impliseer steeds nie 'n verenigde, kollektiewe Afrikaanse spraakgemeenskap nie. Word daar bv. 
besin oor die moontlike herstandaardisering van Afrikaans, is dit 'ons' Afrikaans wat prioriteit moet geniet, want 'julle' Afrikaans (wat 
in elk geval ook nie julle s'n was om sommer so te vat nie), staan met sy 'gesuiwerde' vorm maar hoeka verwyder van die omgangstaal!

Die stryd om die behoud van Afrikaans word op veral intellektuele en akademiese vlak gestry, daar waar die stemme VIR Afrikaans die luidste 
gehoor kan word.

Maar wat van Jan Alleman, die ou wat nie op 'n seepkis sal spring, die swaard sal opneem of sy vuis vir Afrikaans op sy bors sal slaan nie, 
maar tog sy hele wreld in Afrikaans vertaal?

Diep onder die indruk van my eie kommerliefde vir ons taal en al die bewegings rondom die nuwe "onbeskermde" posisie van Afrikaans vra ek 
eens so terloops aan my straatgenote in my township hoekom praat hulle Afrikaans? En hulle kyk my aan of ek skoon gek is. Dit is tog 
vanselfsprekend, is dit nie? Afrikaans is tog hul taal, net soos myne, en watter taal moet hulle dan praat? Behalwe die enkele Engelse 
woord hier en daar, ken hulle geen ander taal nie - hulle praat Afrikaans omdat dit hul taal is. En dit tref my met hoeveel eenvoud hulle 
di feit stel, so sonder die gebruiklike "Afrikaans is ons taal OOK!"

Vra toe so ewe soos 'n wafferse taalsosioloog wat hul houding dan nou teenoor Afrikaans is. Antwoord? Hulle het g'n niks 'n houding nie, 
hulle is Afrikaans, "for better or for worse". Ja, die intellektuele gesprekke rondom Afrikaans kan hulle maar mis, en hul stemme sal dalk 
nooit daar gehoor word nie, maar hulle prate praat hul in Afrikaans.

Nie dat hulle onbewus is van sodanige gesprekvoering nie; inteendeel! My oom, die sjebieneerder (spreek uit sjbieneerder, so genoem na sy 
eie segge) vlieg my op 'n slag goed in na die soveelste televisiedebat oor Afrikaans, met: "Julle kkedmieks sal nog die taal vedala met 
al julle geleerde gemoan, en dan praat ons nog steeds Afrikaans."

My protes dat dit nie genoeg waarborg vir 'n taal se voortbestaan is as hy maar gepraat word nie, is weinig stof tot nadenke vir sprekers 
wat Afrikaans as 'n gegewe beskou. Dalk stof vir meer intensiewe sosiolinguistiese ondersoek na taalhoudings in 'n nuwe Suid-Afrika?

Enkele jare terug het 'n Engelstalige student in die Afrikaanse Taalontwikkelingskursus die volgende oor Afrikaans kwytgeraak: '"Daar is 'n 
soort van 'n mystery in die taal."

Dit in verwysing na die Afrikaanse geskiedskrywing, die politieke en sosiale stigmatisering van die taal en die toenemende aandrang op 
regstellende aksie rondom Afrikaans op alle vlakke. Sedertdien het die situasie verander en kies veral regstudente Afrikaans omdat hulle 
wil, en nie omdat hul kursus dit vereis nie.

Vreemdetaalsprekers kies bv. die Taalverwerwingskursus omdat hul in die Wes-Kaap wil werk en glo dat hul met 'n kennis van Afrikaans 'n 
beter kans het om hier 'n werk te verseker. Tot heel onlangs het tweedetaalsprekers ges dat hulle Afrikaans f kies omdat hulle moet f 
omdat hulle Kombuisafrikaans tuis praat en aan die universiteit "beter" Afrikaans wil ontwikkel. Ook d=B0t het verander, want deesdae erken 
hierdie studente dat hulle Afrikaans kies, bloot omdat hulle van die taal hou.

Nog 'n positiewe ontwikkeling in studente se houding teenoor Afrikaans is die toenemende aanvraag na die voortsetting van beide die 
taalverwerwings- en die taalontwikkelingskursus op tweedejaarsvlak. Praat van die vriendelike bemarking van Afrikaans!

Ook hierdie studente se stemme sal dalk nooit vir die saak van Afrikaans gehoor word nie, maar dat hul 'n mening oor die taal het, is 
gewis. Na aanleiding van die 'mystery' in Afrikaans debatteer die Taalontwikkelingsgroep eens rondom die tema 'Kom ons praat oor Afrikaans' 
oor die variasie in die taal en die insluiting van variante by Standaardafrikaans.

Een van die argumente was dat daar wel 'n standaard moet wees, want s die een student toe, wat maak Afrikaans so anders as ander tale dat 
dit heeltemal geen standaard moet h nie? En sou die taal herstandaardiseer word, sou besin moet word oor watter vorme in ag geneem moet 
word. Mens sou bv. nie Kaapse Afrikaans as die basis kon neem nie, want wat van Afrikaanssprekendes in die Noorde, op die platteland, in 
die Oos- Kaap, ens?

Hierdie vraag is beantwoord deur bv. onaangekondig en sonder 'n waarskuwing vooraf deel van 'n lesing vir moedertaalsprekers in my Kaapse 
Afrikaans aan te bied. Die reaksie was uiteenlopend: sommige studente was verbaas, ander verontwaardig, want hulle kon nie goed volg nie en 
veral die plattelandse studente het gevoel hul word uitgesluit, omdat hul kennis van die variant beperk is. Stof tot nadenke?

Agterna is verduidelik dat die keuse ter illustrasie was van o.a. registerwisseling en is studente die geleentheid gegee om hul eie vorme 
van Afrikaans met die klas te deel. Enersyds het dit studente se trots op hul eie vorme van Afrikaans belig, asook die gebruiksmoontlikhede 
en kontekste daarvan. Andersyds het dit aan die studente bewys dat hulle self bewus is daarvan dat hul hul taalgebruik wysig na gelang van 
die vorm van kommunikasie. En dat my gebruik van Kaaps tydens 'n formele lesing onvanpas vir die situasie was.

Uit die bespreking het studente erken dat hulle wanneer hulle skryf 'n "ander soort" Afrikaans gebruik, omdat die geskrewe vorm meer 
permanent is en mens 'n goeie indruk wil skep. Hul verwysingsraamwerk wanneer hul skryf, is dan ook Standaardafrikaans.

Gedagtig aan tweedetaalsprekers se idees oor Standaardafrikaans en die ander parallelle Afrikaanse vorme, is dit opvallend dat studente wat 
hierdie jaar eerstejaars is, soveel meer objektief oor Afrikaans is. Vra mens die moedertaalsprekers oor Afrikaans en standaardtaal, is die 
standaard vir hulle ook bloot 'n noodsaaklikheid.

Dis of hulle Afrikaans besien vanuit 'n ander perspektief as studente van drie of vier jaar gelede. Hulle is deeglik bewus van die taal se 
nie- talige belading, maar Afrikaans is ook vir hulle meer as slegs draer van geskiedenis. Hul houding teenoor Afrikaans is tekenend van 
die feit dat hulle kinders van die bevryding is en nie produkte van 'n "struggle"-kultuur nie. Hulle mag onbevange Afrikaans wees, en hoef 
hulle nie teen Afrikaans te verset nie. En dat hulle keuses vir en in Afrikaans mag uitoefen, weet hulle ook baie duidelik.

So het die meeste van die eerstejaars aan die Universiteit van Stellenbosch, wat mens sou verwag eerder na histories swart universiteite 
moes gaan, aangedui dat die meeste van hulle uit suiwer taaloorwegings die universiteit gekies het. Sodoende kon hul verseker dat hulle 
suksesvol sou wees, omdat die onderrigmedium Afrikaans is. Afrikaanssprekende studente van die UWK voel weer dat hul hier die geleentheid 
gegun word om hul as Afrikaanssprekendes binne 'n veeltalige opset te handhaaf. Keuses vir en in Afrikaans.

Soveel Afrikaanse stemme -- stemme wat gehoor word daar waar dit saak maak.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av428.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- April 1997 /// Afrikaanse sektor moet in rat kom (AV 4:2) /// 'n 
Positiewe taaltoekoms (AV 4:2) /// Staan Afrikaans sy man oor die lug? (AV 4:2) /// SAG begin wins sien (AV 4:2) /// Tale word digterlik 
saamgebind (AV 4:2) /// Laat Afrikaans soos kakiebos woeker (AV 4:2) /// Afrikaans en 'n taalplan vir Suid-Afrika (AV 4:2) /// Keuses word 
nou vir en in Afrikaans gemaak (AV 4:2) /// Moedertaalonderrig is belangrik (AV 4:2) /// Staan nader -- daar's hoop! (AV 4:2) /// Hoekom 
stry? (AV 4:2) /// Zoo leert men ... Afrikaans (AV 4:2) ///

